Nuusbrief 8/2019

Beste Musiekvriende,   

Hermann Prey: Essentials

Dié bekende bariton is in Berlyn gebore en het naam gemaak as lieder – en opera sanger. Hy het in Mozart, Rossini en Wagner operas opgetree en word beskou as een van die beste vertolkers van die rol “Eisenstein” in J.Strauss se “die Fledermaus.” Hierdie CD bevat ‘n verskeidenheid van sy rolle wat hy al gesing het en verskaf pure luistergenot.

Haydn: Symphonies (transcribed for piano) – Ivan Ilić

Carl David Stegmann was ‘n tenoor, dirigent en komponis. Hy was ook ‘n opgeleide orrelis en het baie belang gestel om transkripsies van werke te doen o.a.Mozart se Strykkwintette en 25 van Haydn se simfonieë. Ivan Ilić, die pianis in die opname, het goeie terugvoer van die gehore by sy konserte gekry en toe besluit om die CD op te neem. Luister asb na die skakel – dis puik!!

Prinz Johann Ernst von Sachsen-Weimar: Concerti

Die Prins was gebore in Weimar Duitsland en was ‘n komponis en hofmusikant. Van sy konserte het JS Bach oorgeneem en verander vir orrel of klawesimbel. Sy musiek was vir my heeltemal onbekend, maar tog iets besonders. Hierdie CD met sy konserte is heerlik om na te luister en sielsverrykende musiek. Geniet dit!!

Katie Melua: Ultimate Collection

Katie Melua het in 2003 haar debuut gemaak, en in 2006 was haar CD in Engeland die top verkoper in die beste vroulike kunstenaar kategorie. Met treffer snitte soos “ Nine million bicycles, The closest thing to crazy” en baie ander, verskaf hierdie dubbel CD 2 ure se luister genot.

Summer Night Concert 2019

Elke jaar word hierdie groot opelug konsert gehou in die by die Schönnbrunn Kasteel in Wene. Die Weense Filharmoniese konsert word gedirigeer deur Gustavo Dudamel en die solis is die pianis Yuja Wang, wat in Gershwin se “Rhapsody in Blue” gehoor kan word. Ander werke wat gehoor kan word is o.a. “Barber: Adagio, Sousa: Stars en Stripes, Dvorak: Finale beweging uit sy 9de Sinfonie en nog baie meer. Die konsert word gewoonlik na meer as 60 lande gebeeldsend en uitgesaai. Definitief ‘n MUSIKALE JAARLIKSE HOOGTEPUNT!!

 

My aanbeveling vir die maand:

Windsbacher Knabenchor: Water & Spirit

Die koor, wat vandag as een van die BESTE SEUNS kore ter wêreld beskou word, is in 1946 gestig deur Hans Thamm.

Hulle is verbonde aan die Lutherse kerk in Beiere, wat hulle finansieël ondersteun. Hierdie CD bevat ‘n paar nuwe werke, sowel as bekende koor werke!! Die mooiste seuns stemme wat hemelse musiek maak!!

Musiekgroete

Heide