Nuusbrief 8/2018

Beste Musiekvriende,

Celtic Woman: Homecoming (Live from Ireland)

Die groep bestaan uit 5 dames, waarvan 4 sing en een viool speel. Met hulle besonderse stem-harmonieë, kan ‘n mens heerlik agteroor sit en luister na die rustige musiek. Hulle het ook al in SA opgetree. Hulle vertolking van bekende pop melodieë en keltiese musiek raak ‘n mens se hart. Dié CD bevat musiek vir die SIEL!!
 

 

C.H. Graun: Opera Arias – Julia Lezhneva

Graun was ‘n Duitse komponis en opera sanger en word beskou as die belangrikste Duitse komponis van Italiaanse opera. Hy het in die bekende Dresdner Kreuzkoor gesing en was ook lid van die Dresden Operakoor. Die arias word gesing deur die Russiese sopraan Julia Lezhneva. Puik vertolking van Graun se musiek.
 

 

S. Bennett: Klavierkonsert 1 – 3

Bennett was ‘n Engelse komponis, pianis en dirigent. Op tien jarige ouderdom het hy by die London Royal Academy of Music begin, waar hy tien jaar klas geloop het. Op twintig jarige ouderdom was hy al ‘n befaamde konsertpianis en Mendelssohn was so beïndruk met hom, dat hy hom na Leipzig genooi het. In Leipzig het hy optredes gehou en hom toegespits op komposisie. Sy klavierkonserte is dalk onbekend, maar ongelooflik mooi om na te luister.
 

 

Albinoni: Orrel Konsert LV 126

Albinoni se Adagio is seker een van die bekendste klassieke musiek stukke. Min het ons geweet, dat dieselfde komponis so ‘n ongelooflike mooi orrelkonsert gekomponeer het. Die werk is onbekend, maar die moeite werd om na te luister!!
 

 

Patrizio Buanne: Italianissimo

Hy word beskou as die “Neapolitan Pop Crooner” en het al meer as ‘n miljoen CD’s wêreldwyd verkoop. Hierdie is sy nuutste CD en sluit snitte soos o.a. Volare, Ti amo, Caruso en nog baie ander in. Met sy besonderse stem en stemtegniek trek hy groot gehore en is baie besig met vertonings. ‘n Heerlike CD om na te luister!!
 

 

My aanbeveling vir die maand:

50 Best Sacred Music (3cd stel)

Die stel bevat ‘n wonderlike verskeidenheid gewyde musiek – van koorwerke tot solo arias uit misse, requiems en oratoriums. Dit word uitgevoer deur o.a. E.Schwarzkopf, B.Hendricks, P.Jaroussky, Choir of King’s College Cambridge. 3 uur van stemmige musiek wat oor en oor geluister kan word en jou siel kan verryk!!
 

 

Ek het op my webwerf ‘n klomp nuwe kategorieë geskep, wat dit makliker gaan maak om by spesifieke musiekstyle uit te kom. Het o.a. country, boeremusiek, jazz, simfonieë, gospel, klankbane, choirs / vocal groups ingebring. Hoop dit help julle as julle iets op my webwerf soek.

Musiekgroete

Heide