Nuusbrief 7/2019

Beste Musiekvriende,

Susan Boyle: Ten

Susan Boyle gebore in Skotland het deelgeneem aan die kompetisie “Britain has got Talent” en haar  eerste groot treffer was  “I dreamed a dream”.  Dit was die begin van haar sangloopbaan en haar debuut CD is in November 2009 vrygestel. Dit was in Brittanje die grootste verkoper. Die nuwe CD: TEN  bevat van haar grootste treffers  plus 4 nuwe liedjies.

Olivier Latry: Bach to the Future

Olivier Latry is ‘n baie bekende orrelis in Frankryk en ook Professor in Orrel aan die Paryse Konserwatorium. Dié CD is opgeneem op die orrel in die Notre Dame katedraal in die begin van die jaar. Gelukkig het die orrel geen skade opgedoen met die onlangse brand  in die katedraal nie. Luister asb na die ongelooflike klank van die orrel – dit is sielsverheffend!

Mendelssohn: Overtures

Die ouvertures van Mendelssohn bevat van sy mooiste orkes musiek. Dié CD sluit in van sy bekendste ouvertures soos o.a. “Hebrides, St.Paul, Athalie, A Midsummer Night’s Dream” en nog vele meer. Die “Trompet Ouverture” is ook op die CD en word baie selde gehoor. Geniet  die skakel!

https://www.youtube.com/watch?v=LzaSntmeqAQ

Mirella Freni: Essentials

Sy word beskou as een van die grootste Italiaanse soprane. Haar repertorium  sluit  o.a. Verdi, Puccini  en Tchaikovsky in. Sy het baie saam met Nicolai Ghiaurov (haar man) en Pavarotti opgetree en opnames gemaak. Hierdie CD bevat ‘n verskeidenheid van die mooiste opera arias. ‘n Besonderse stem!!

Holland Baroque & Wu Wei: Silk Baroque

Díe  Barok orkes hou daarvan  om nuwe, vars  verwerkings te doen van bekende musiek en hulle tree  ook graag op met soliste wat skaars instrumente bespeel. Op hierdie CD kan jy luister na Wu Wei wat ‘n Sjineese “sheng” bespeel. Dit is ‘n outydse Sjineese bekfluitjie en die klank wat hy uit die instrument optower is ongelooflik en verstommend.

My  aanbeveling  vir  die  maand:

Mozart: Keyboard Concertos No.11, 15, 27  (arranged for accordion) – Viviane Chassot

Van Mozart se bekendste klavierkonserte word op hierdie CD op akkordeon uitgevoer. Dit klink vir my ongelooflik mooi en daar word deesdae meer en meer Klassieke musiek verwerk vir die instrument, die akkordeon. Dié instrument se besonderse klank pas baie goed by Mozart se werke. Viviane Chassot is uiters musikaal en sy maak die vertolking van die Mozart konserte haar eie.

Musiekgroete

Heide