Nuusbrief 6/2018

Beste Musiekvriende,

Haydn: String Quartets op. 76

Die 6 kwartette is opgedra aan die Hongaarse graaf Josef Georg von Erdődy en bevat 2 van Haydn se bekendste kwartette nl. die “Emperor en Sunrise” kwartet. Haydn het altesame 68 kwartette geskryf. Die Opus 76 kwartette is volgens my van die mooiste kamermusiek wat bestaan – strelende musiek vir die siel!

 

John Rutter: The very best

Hy is in London gebore en het in 1981 sy eie koor die “Cambridge Singers” gestig. Hy hou baie konserte oorsee en was ook al ‘n paar keer in Suid – Afrika. Sy koorwerke soos o.a Requiem, Magnificat en Gloria vind groot aanklang by gehore.

 

Saint-Saens: Simfonie Nr. 3 (Orrel Simfonie)

Die simfonie is in 1886 voltooi en bestaan uit 4 dele, waarvan 2 dele geskryf is vir orrel en orkes; wat die simfonie uniek maak. Saint-Saens het oor die werk gesê: “I gave everything to it I was able to give. What I have here accomplished, I will never achieve again.” Die opname met Daniel Barenboim op DGG gee vir my hoendervleis elke keer wanneer ek dit luister!!

 

Dana Winner: Platinum Collection (3 cd Stel)

Dana Winner is gebore in België en baie bekend in Nederland en Suid-Afrika. Sy het al baie konserte in SA gehou en elke keer die gehore met haar soet en suiwer stem beïndruk. Ek was bevoorreg gewees om een van haar konserte by te woon, en sal die ondervinding nooit vergeet nie. Haar liedjie “ Let the children have a world” wat sy saam met ‘n kinderkoor sing, het al baie mense in die gehoor in trane gehad. Kan CD stel aanbeveel.

 

DVD: Voetspore 10 – Reünie (4 DVD stel)

Johan Badenhorst en sy span het al ‘n klomp reise met 4×4 karre onderneem oor die jare, wat sommiges van julle seker op TV gevolg het. Johan het in hierdie reeks die mense wat saam op vorige reise was, genooi om ‘n “Reünie – ekspedisie” te onderneem – en dit was ‘n GROOT SUKSES!! Ek kan die DVD ten sterkste aanbeveel!!

 

My aanbeveling vir die maand:

Dvorak: Tjello Konsert – Mario Brunello / Orch dell’ Academia di Santa Cecilia / A.Pappano

Dié tjellokonsert is volgens my EEN van die grootste skatte in die Klassiek Musiek wêreld. Ek het dié spesifieke opname al herhaalde kere geluister en elke keer besef hoe besonders die komposisie van Dvorak is – dit voel vir my of Dvorak ‘n spesiale aanvoeling vir die tjello gehad het. Indien jy dit nog nooit gehoor het nie, luister asb!!

 
Musiekgroete

Heide