Nuusbrief 5/2019

Beste Musiekvriende,

Leopold Mozart: Missa Solemnis

Hy is gebore in Augsburg (Beiere) en het hom daar bekwaam as ‘n akteur, sanger, violis en orrelis. Dié werk is gekomponeer vir 4 solo stemme, koor en orkes. Die werk word nie baie gehoor nie, maar is vir my ‘n besonderse koorwerk. Geniet  die skakel!!

Enya: The very best

Enya  is ‘n Ierse  sangeres, asook ‘n liedjie skrywer en musikant. Haar hele familie was baie musikaal en het destyds die groep  Clannad  begin, waarvan Enya ook ‘n lid was. Haar vrystellings op plate het destyds 26.5 miljoen kopieë verkoop in die VSA. Met haar rustige stem en puik verwerkings van haar liedjies, bied haar musiek PURE LUISTERGENOT!!

Huddersfield Choral Society: Hymns II

Die koorgroep is in 1836 begin en word nou nog beskou as een van Brittanje se beste kore. Dié koor tree gereeld saam met groot orkeste  op soos o.a. the Orchestra of the North, Halle orkes, en the Royal Liverpool Philharmonic. Die lede van die koor is amateur  sangers  en na ‘n kort geslaagde  oudisie kan enige iemand  by die koor aansluit. Dié CD bevat  opnames van  tradisionele Engelse  gesange en word vertolk  deur ‘n koor met ‘n baie besonderse  klank!!

Kuhlau: Piano Quartet No. 3

Hy is ‘n Duits gebore  komponis  en  was ‘n bekende konsert pianis. Hy  het baie van Beethoven se werke, vir wie hy groot bewondering gehad, aan die publiek bekend gestel. Hierdie kamermusiek werk is ongelooflik mooi!!

Mathys Roets: Introspeksie

Mathys het al diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak  en word  herken aan sy diep lae register – ‘n stem wat ‘n mens aan  satyn laat dink. Hy is baie gewild  vir o.a. sy Leonard Cohen en Neil Diamond  vertolkings en sy konserte lok baie mense. Hy is ook lid van “Drie van die Bestes”  wat Danie Niehaus en Kevin Leo  insluit.  Geniet die skakel!!

Gilardino: Music for Guitar Quartet

Gilardino is gebore in Italië en is ‘n kitaarspeler en musikoloog. Hy het gekomponeer  vir solo kitaar, kamermusiek en  kitaar konserte. In 2009 ontvang hy van die “Guitar Foundation of America” ‘n “Artistic Achievement Award”  wat toegeken word aan musikante of komponiste vir hulle buitengewone bydrae tot die ontwikkeling van die klassieke kitaar. Hy het ook Giuliani se solo studies vir kitaar herrangskik. Geniet die skakel!!

My  aanbeveling  vir  die  maand:

Peter Schreier  singt Volkslieder

Peter Schreier  was gebore in Meissen (Duitsland) en op 10 jarige ouderdom  word hy lid van die Dresdner Kreuzchor.

Die destydse dirigent, Rudolf Mauersberger  het besef dié koorlid het ‘n besonderse stem en het vir hom dikwels as solis gebruik. Op 16 jarige ouderdom breek sy stem en  word  hy ‘n tenoor. Hy begin professionele sangonderrig te neem  by ‘n privaat persoon en later by die Dresden Akademie vir Musiek. Hier beywer hy hom ook as ‘n dirigent.

Hy word vandag nog beskou as een van die grootste tenore in die Klassieke musiek wêreld.

Musiekgroete

Heide