Beste Musiekvriende,
Il Volo: Musica
Dié Italiaanse pop trio bestaan uit drie sangers – ‘n bariton en twee tenore. Met hulle nuwe CD “MUSICA” vier die groep sy 10de bestaansjaar. Dié CD bevat o.a. snitte soos : “ Arrividerci Roma, Be my love, La voce del silenzio” en nog baie meer. Geniet hulle musiek – drie stemme wat baie goed bymekaar pas!!
Choir of St. George’s Chapel: O How Glorious is the Kingdom
Dié koor van die Windsor kasteel het ‘n CD opgeneem met vokale kosbaarhede wat oor vyf eeue strek. Met snitte soos: “ I was glad (Parry), How lovely is Thy dwelling place (Brahms), Jubilate Deo (Britten) en nog baie meer weerspieël dié CD die vars klank en veelsydigheid van die koor. Puik koorklank wat sielsverheffend is.
Karl Jenkins: The Piano Album
Jenkins is bekend vir sy koorwerke wat gereeld op musiekprogramme of in konsertsale gehoor word.
Op sy nuutste CD het Jenkins sy grootste treffers gekies en self op klavier uitgevoer. Pure luistergenot!!
C.Reinecke: String Quartets
Reinecke het op 7 jarige ouderdom begin komponeer en op 12 jaar sy eerste publieke optrede as pianis gegee. Hy het eerste viool in sy pa se kwartette gespeel en daardeur goeie kamermusiek kennis opgebou. Hy het vyf strykkwartette gekomponeer – ‘n groot vonds vir kamermusiek liefhebbers.
Bach: Concertos ( arr. for 2 guitars and orchestra)
Die Grigoryan broers het van Bach se konserte vir 2 kitare en orkes verwerk. Die werke sluit in : Konsert vir 2 viole BWV 1043; Klavierkonsert BWV 1052 en Konsert vir Hobo, viool en strykers BWV 1060. Hulle verwerkings is ongelooflik mooi en ek het lanklaas ‘n opname so geniet!!
Mark Knopfler: Down the Road wherever
Hy was destyds die hoof kitaarspeler en hoofsanger vir die bekende groep Dire Straits. In 1995 het die groep opgebreek en Mark Knopfler het sy solo loopbaan begin. Hy het fliekmusiek vir 9 flieks gekomponeer o.a. “Local Hero, Cal, The Princess Bride.” Sy musiek is rustig en word deur resensente beskryf as: “ slow and elegant.”
My aanbeveling vir die maand:
Aranjuez – Concerto & dances for harp – Xavier de Maistre
Maistre het op 9 jarige ouderdom in sy tuisdorp Toulon se konserwatorium begin harp lesse neem. Op sestien jaar wen hy sy eerste internasionale kompetisie in Parys. In 1998 word hy die eerste Franse musikant wat aansluit by die wêreldbekende Weense Filharmoniese Orkes. Op hierdie CD speel hy die Rodrigo: Konsert de Aranjuez op harp ,wat oorspronklik vir kitaar en orkes geskryf is. Wat ‘n belewenis!!
Musiekgroete