Nuusbrief 3/2019

Beste Musiekvriende,

B. Streisand: Classical Barbra

Barbra Streisand  wat bekend is vir haar  ligte musiek – en fliek opnames, het in 1976 ‘n klassieke album uitgereik: Classical Barbra. Van díe plaat  is destyds oor die 500, 000 kopieë in die VSA verkoop.  Die CD bevat  snitte soos o.a.  “Faure: Pavane; Handel: Lascia ch’io pianga en Schubert: An Sylvia.” Dit bly vir my ‘n besonderse CD!!

Albeniz: Orchestral  Works

Albeniz is in  Spanje gebore en het hom as ‘n pianis, komponis en dirigent  bekwaam. Hy is veral bekend vir sy kitaar werke wat hy gekomponeer het. Op dié CD is  die werk : Suite Espagnol  No.1 op.47 met die snit “Asturias” , wat Spaanse musiek op sy beste ten toon stel.

 

Dvorak: Symphony No.9 in E min. op.95

Dvorak, ‘n Tsjeggiese komponis, het op 12 jarige ouderdom met musiekonderrig begin. Hy het  9 simfonieë gekomponeer, waarvan die negende  seker die bekendste is. Dié werk bestaan uit 4 bewegings, waarvan die tweede beweging die bekende “Goin`  home”  tema  insluit. Bekende sangers soos bv. Stuart Burrows het dié  lied opgeneem en dit bly  ‘n baie gewilde snit in versoekprogramme.

 

Schubert: Rosamunde D644

Die  bykomstige musiek bestaan uit 11 snitte. Dit begin met ‘n ouverture en bevat ook 2  bewegings wat as ballet musiek gekomponeer is. “Der Vollmond strahlt” ‘n strofiese  lied  vir sopraan begelei  deur die blasers, altviole en tjello’s is asemrowend  mooi. Die  “Herderkoor” en “ Jagterskoor”  is ongelooflik mooi. Luister asb na die hele Rosamunde – dit is ‘n verhaal wat so mooi met musiek vertel word!!

 

Anthony Ventura: Love the night away (2 CD)

Hierdie  2 CD stel bevat wonderlike, rustige instrumentele musiek uitgevoer deur die Anthony Ventura orkes. 40 snitte wat o.a. “Sailing, Love story, Ballade pour Adeline, Guantanamera “  en nog baie meer insluit. Sit terug en luister!!

 

Joseph Calleja : Verdi

Calleja  is gebore in Malta  en wen in 1998 die Caruso kompetisie en in 1999 die  Placido Domingo Operalia International Opera Competition. Met dié  Verdi  CD  bewys hy aan sy luisteraars, dat daar nog ‘n groot toekoms vir hom voorlê as sanger en hy word beskou as een van die jong opkomende tenore. Hy sing vir die volgende paar maande die rol van “Cavaradossi”  in Tosca van Puccini  by die MET  Opera Teater in New York.

 

My  aanbeveling  vir  die  maand:

Katherine  Jenkins: Guiding  light

Sy is  gebore in Wallis  en het al in operas, sowel as musiekblyspele gesing. Sy is  ook  ewe tuis in ligte musiek. Haar nuutste album  “ Guiding light” bewys weereens  hoe mooi haar stem in enige musiek genre vertoon. Dié  CD  bevat snitte soos o.a. “Homeward bound, To where you are en Nearer my God to Thee.”

Dit is ‘n puik CD en bevat die mooiste siels–musiek!!

 

Musiekgroete

Heide