Nuusbrief 3/2018

Beste Musiekvriende,

Kevin Leo: XXI

Hy is een van Suid-Afrika se groot tenore en het al baie saam met Danie Niehaus en Mathys Roets opgetree. In 2006 het hy opgetree by ‘n operawedstryd in Milaan Italië en baie goed gevaar. Dié CD bevat o.a. “Gebed” (Koos du Plessis) en “Die Onse Vader” en die verwerkings is ryk en word deur strykers bygestaan. Skaf die CD gerus aan!!

 

King’s Singers: Gold (3 CD stel)

Dié bekende Acapella groep vier vanjaar hulle 50ste bestaan. Hulle het oor die jare baie bekendheid verwerf vir hulle vertolking en harmonisering van Klassieke – en ligte Musiek, wat groot genot en bewondering by die publiek skep. Puik versameling!!

 

Offenbach: Ouvertures

Hy is veral bekend vir sy opera “die Verhale van Hoffmann” waaruit die bekende “ Barcarolle” kom. Hy het ook nagenoeg 100 operettes gekomponeer. Dié CD bevat van die ouvertures van sy operettes. Heerlike musiek om na te luister!!

Karl Jenkins: Symphonic Adiemus

Sy musiek word vandag wêreldwyd die meeste gespeel op radio stasies. Die eerste “Adiemus” het in 1995 verskyn en was ‘n unieke mengsel van klassieke en etniese musiek. Jenkins het die werk nou oor opgeneem met ‘n vergrote orkes van 100 lede by die bestaande orkes en ‘n koor van 80 mans en vrouens. Luister na die snitte “Adiemus “ en “Song of the Spirit”. Dit gee ‘n mens hoendervleis!!

 

Daniel Chorzempa plays Bach: Schübler korale

Die bekende korale wat dikwels in kerke gehoor en gesing is soos o.a. “Wachet auf, ruft uns die Stimme” en “ Meine Seele erhebet den Herrn” word hier op pyporrel uitgevoer. As jy van grootse kerkorrel musiek hou, is die CD ‘n moet vir jou versameling.

 

My aanbeveling vir die maand:

Verdi: Rigoletto met Dmitri Hvorostovsky

Hierdie was Dmitri se eerste volledige en langverwagte opname van Verdi se Rigoletto. Die warmte van sy stem, sy onvergelykbare veelsydigheid en tegniek maak dit ‘n besonderse opname. Dié CD is op 10 November 2017 uitgereik en hy is 12 dae later aan breinkanker oorlede. Indien jy ‘n Rigoletto wil aanskaf, is dít sonder twyfel die opname!!

 
Musiekgroete

Heide