Nuusbrief 11/2018

Beste Musiekvriende,

Roberto Alagna & Aleksandra Kurzak: Puccini in Love

Hierdie CD Puccini in Love is hulle eerste CD as man en vrou saam. Die album bevat van Puccini se grootste liefdesduette insluitend Madama Butterfly, La Boheme, Manon Lescaut en die minder bekende duette uit Il Tabarro en La Rondine. Die CD weerspieël Puccini se mees emosie belaaide en passievolle musiek. Alagna en Kurzak het al saam by die MET en Royal Opera House opgetree.
 

 

Vienna Boys Choir: Strauss for Ever

Die Weense Seunskoor word as die bekendste seunskoor in die wêreld beskou en bestaan hoofsaaklik uit Oostenrykse seun – soprano en alte. Die koor bestaan uit +/- 100 lede wat wissel tussen 10 – 14 jaar oud. Die koor is gedeel in 4 individuele kore wat toer en 300 konserte per jaar gee. Hulle vertolking van Strauss melodieë is PUIK!!
 

 

Placido Domingo: Volver

Domingo word op kitaar begelei deur Pablo Sainz-Villegas. Dit is ‘n outentieke album en Domingo se stem verleen ‘n besondere warmte aan die musiek. Die CD bevat Latyns – Amerikaanse liedjies soos “Spaanse coplas,nostalgiese fado’s en Meksikaanse boleros.”
 

 

Beliebte Lieder der Berge Folge 2

‘n Versameling met van die mooiste Duitse volksmusiek gesing deur o.a. Die Klostertaler, Trientiner Bergsteigerchor en vele andere. Bekende snitte sluit in La Montenara, Alphorngruss, Kufsteiner Lied, Erzherzog Johann Jodler – as jy van Duitse volksmusiek hou gaan jy beslis dié CD geniet.
 

 

Wynand Strydom: Skielik is jy vry

Wynand Strydom met sy warm, diep stem sing ‘n verskeidenheid van Koos du Plessis se liedjies. Die CD bevat o.a. Gebed, Skielik is jy vry, Kinders van die wind, As almal ver is, Skadus teen die muur en nog baie meer. Wynand se stem en vertolking gee ‘n besondere warmte aan dié legende se liedjies. Dit is sielsmusiek!!!
 

 

My aanbeveling vir die maand:

Adam: Le Corsaire (2 cd stel)

Hierdie is een van Adam se ballette wat die eerste keer op 24 Januarie 1858 opgevoer is in die Imperial Bolshoi Kamenny Teater. Dié ballet bestaan uit 3 bedrywe en bevat van die mooiste musiek wat vir ‘n ballet gekomponeer is. Adam se bekendste ballet is Giselle.
 

 
 

Musiekgroete

Heide